Tuesday 23 February 2010

Idees...

Party mense het darem goeie idees... oorspronklik! Ek verstom my altyd aan die mooi koeke en goedjies wat mens op die internet sien...

Eugene het klaar bestel vir sy partytjie die jaar (2010) - dit het begin by 'n 'looi kal tytjie' (rooi kar partytjie)... Ok - CARS kan die ding doen (alhoewel ek 'n beginsel probleem het om die hoofstroom temas te kies vir my kinders se partytjies)!!! Nee, toe kondig hy triomfantlik aan dit moet 'n 'looi kal blandweel tytjie' (rooi kar brandweer partytjie) wees! Ek spring uit my vel van opgewondenheid en het klaar 'n magdom van idees... maar dit sal moet wag vir Julie!!!

Melissa is 'n ander storie - sy wil 'n Hannah Montana partytjie hê - nee, ons kyk nie eers na Me Montana se storie nie... dit kom van die skool af... 'maar Mamma, ons hoef vir niemand te sê dis 'n Hannah Montana partytjie nie...' Sal nog bietjie moet werk aan die ene!

Ek het 'n skoonsussie - die vrou se kreatiwiteit ken geen perke nie! Met haar oudste seuntjie se eerste verjaarsdag hou ons partytjie (hulle kuier hier van Ghana af op daai stadium)... Ek was uit my beste 'Crocs' uit verras! Die tema was bere - elke kind het 'n sakkie gekry met 'n beer op en 'n koeldrank in 'n koeldrankbotteltjie (daai wat ons altyd in ons kosblikke gekry het). Daar was vir elke kind 'n voorskoot gemaak van 'n wit sak ook met 'n beer voorop. Sy't 'cupcakes' gebak en 'n klomp versiersuiker aangemaak, Smarties ens. uitgesit en die groter kinders kon cupcakes versier na harte lus! Die kinders het dit baie geniet en het hulle eie skeppings met baie trots vir die groot mense gegee om te eet!

Die einste nefie het die jaar 'n gogga partytjie gehad - die kinders het piekniek gehou met hul lekkergoed in blombakkies... MAAR die hele plek was oortrek met goggas en wurms wat sy uit papier en eierhouertjies gemaak het... Die goggas het van die dak af gehang, uit die bome, teen die mure... ORALS NET GOGGAS!!! Twee weke later het sy die jonger nefie se verjaarsdag gehou met 'balle' as tema... Mense, wie sou nou kon dink om jou eie balle (soos daai stresballe) te maak... Ek like!

Ek kyk die nuwe Partytjie Idees tydskrif deur... Hulle wys daar 'n fyn porselein teekoppie met spookasem in - dit lyk so fraai! Hulle uitkamp partytjie vir ouer seuntjies dink ek ook is baie oulik - klaar besluit Eugene kan 'n kamp partytjie kry wanneer hy 7 word - dalk sal oom Jannie weer vrygewig wees met sy plaas!

1 comment:

  1. Hoor hier, vertel tog hoe oulik Eugene se plaas partytjie was hoe elke kind wat daar was steeds smag om weer op Oom Jannie se plaas te gaan kuier.

    My uitgangspunt van Partytjie hou vir kinders beteken herinneringe skep vir n leeftyd.

    ReplyDelete